Wanneer God sê, “nie nou”
“I, the Lord, will make it happen in the right time.” Isaiah 60:22
Hierdie een is darem moeilik… Ons tydperk en God se tydperk stem nie noodwendig altyd saam nie, alhoewel dit eenvoudig is, ons het nie ‘n sê nie. Ons is in God se hande.
Soveel keer in die lewe wil ons ‘n ding nou hê of nou laat gebeur, maar dan gebeur dit nie, dan vra ons God, “hoekom nie Here?” “Wanneer Here?”
Tog is die antwoord voor ons soos in Isaiah – God sê, Ek sal dit laat gebeur op die regte tyd.
Soms is dit moeilik om te aanvaar dat jou wil nie God se wil is nie. Ons mens moet wel net aanhou hoop, vetrou en glo in God. Ek glo dit ten volle. God ken jou hart se begeertes en drome, Hy sal jou gee wat jy nodig het en wanneer dit nodig is. Bid. Dit is waaraan jy moet klou. Die geloof van gebed is goed.
Ons moet ook leer om nie net te bid waarvoor ons wens nie, maar ook te bid vir geduld en begrip tydens die wag periode. Selfs te bid dat God ons sal gee wat ons nodig het eerder as om te bid vir wat ons wil hê. Ons dink partykeer ‘n sekere ding gaan ons gelukkig maak, maar eintlik hinker ons harte na iets anders en ons soek enige iets om daardie leemte te vul.
Hy ken jou die beste van almal, praat met God oor hoe jy voel, waarna jy streef, maar moet nie vergeet dat Hy in beheer is nie. Onthou dat mens mag vra. Moet net nie aanneem nie.
So ek wil vandag my stuk eindig met ‘n gebed, vir jou en vir my:
Here God, dankie vir die voorreg dat ek mag bid in my taal en in vrede.
U ken my hart se begeertes en lewensdrome, maar vandag vra ek dat U dit sal laat gebeur wat my hart nodig het, en nie dit wat ek voel ek het nodig nie.
Here, help my om geduldig te wees terwyl U wil geskied. Help my om te verstaan hoekom en waarom dinge nie altyd gebeur soos wat ek dit wil hê nie.
Ek het wense, maar ek respekteer U wil.
Here, ek wag op U wil, maak my nederig en kalm. Gee my die nodige leiding waar nodig en hartsvrede.
Mag ek nooit U goedheid vergeet nie.
Ek bid dit in U naam alleen, Amen
Zandré Kot