“Wat Maak Ek Met My Teleurstelling, Here?”
Nadat ek al my “hoekoms?”, “waaroms?” en “ek verstaan nie” deeglik met die Here gedebateer het, moes ek uiteindelik by ‘n punt kom waar ek met semi-aanvaarding na Hom draai en vra, ‘oukei, Here, maar wat maak ek nou met die teleurstelling?”
Want dis alles goed en wel om te kan aanvaar dat wat gebeur het, het gebeur. Dat daar heel moontlik nie ‘n tweede kans gaan wees nie. En dat niks die resultate nou kan verander nie. Maar hierdie neem die groot, teleurstellende gat weg wat hier in jou binneste sit nie.
Mense probeer troos deur te sê, ‘alles gebeur met ‘n rede.’ Dit is dalk so, maar dis nie te sê dat die rede die Here se wil was nie. Ons is vry mense wat vrye teuels gegee is om ons eie keuses te maak, en soms is dit as gevolg van ons eie kop volg, wat ons in ‘n ashoop wil gaan sit. Sommige keer is dit net ‘n verloop van omstandighede omdat ons in ‘n onperfekte wêreld leef.
Of hulle sê, ‘God sal alles ten goede laat mee werk.’ Beslis waar, maar om ten goede mee te werk beteken nie noodwendig ek gaan ‘n tweede kans kry nie. My ten goede meewerk en die Here s’n is nie gewaarborg om dieselfde te lyk nie. En net partykeer gaan ons nie eers die goeie uitkoms daarvan hierdie kant van die Hemel ervaar nie en sal ons eers die mooi uit die prentjie sien wanneer ons eendag daar bo kom.
Hierdie woorde en bemoediging help dalk vir ‘n oomblik, maar dit keer nie daardie dae wat die teleurstelling weer soos ‘n vars golf oor jou spoel nie. Wat maak jy met die teleurstelling dat dit jou nie so onderkry nie? Dat daar nie tydperke is wat alles goed gaan net vir daai dag om weer te kom wat jy met al jou vrae sit nie? Dis asof jy nooit regtig vorentoe gaan nie en nooit werklik oorwinning hieroor kry nie.
Teleurstellings kom in alle vorms en grotes.
‘n Geleentheid wat jy gemis het wat sou help vir ‘n droom om waar te word.
‘n Werksoffer wat nie deurgekom het nie.
Iemand se woorde of aksies wat jou seergemaak het.
‘n Finansiële deurbraak wat nie uitgewerk het nie.
‘n Huwelik wat misluk het.
Kinders wat van die pad afgedwaal het.
Jou gesondheid of liggaam wat jou in die steek gelaat het.
Jou doelwit wat nie bereik is nie.
So wat nou gemaak? Want ek kan nie die situasie verander nie. Ek kan nie ander mense verander nie. Ek kan nie tyd terugdraai of ‘n tweede kans kry nie.
Die Here stel belang in elke deel van ons lewe, maar Sy algehele fokus is nie om die klein detail van die prentjie wat ons het, als mooi bymekaar te laat pas nie. Hy sien en kyk na die veel groter prentjie. Sy uiteindelike groot doel vir elkeen van ons is om ons karakter en menswees te vorm en te buig en nuut te maak sodat ons al meer soos Jesus kan word.
“Dis egter nie al nie – ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” – Romeine 5:3-5
Hoekom is verandering so moeilik en swaar? Hoekom voel dit of ons gebreek moet word voor ons nuutgemaak kan word?
Jare se ou patrone het ons gebuig en gevorm in die mens wat ons vandag is. En soos ‘n gebreekte been wat verkeerd vasgegroei het, moet ons ook eers gebreek word voor ons in die regte rigting gedraai kan word en kan groei in die beeld van Christus. Geen gemaksone gaan jou ooit forseer om nuut en anders op te tree nie.
Die Here sal van elke geleentheid in ons lewe gebruik maak om aan ons te skaaf en te werk. Daar is nie ‘n geleentheid wat Hy sal laat verby gaan om ons nie beter te maak nie – vir ons eie beswil en vir Sy glorie. Selfs jou diepste, seerste teleurstelling sal Hy gebruik.
So wat maak ek met my teleurstelling, Here? Ons gee dit vir Hom en ons vra dat Hy ons ‘n beter mens aan die anderkant hiervan sal laat uitkom.
In plaas van om te bly terugdink en te hoop op wat kon wees, span al jou fokus in op die hier en nou. Besef die realiteit van jou situasie nou, en vra jouself ‘hoe kan ek beter word, meer soos Christus word, danksy my teleurstelling?’
Die enigste vaste versekering wat ons het, is dat God ons nooit sal teleurstel nie. So ja, Hy sal alles ten goede laat meewerk, Hy bly God en bly in beheer en is getrou, en Hy sal jou nooit alleen laat nie. Leef vir Hom. Fokus op Hom. Gee jou seer vir Hom. En laat dit alles jou vorm en druk en buig en trek om net al meer die vrou te word wie Hy ingedagte het.