top of page

Wat Regtig Saak Maak

Vir maande het ons met opwinding uitgesien na Julie maand. Dis die maand wat ons in ons nuwe huis intrek. Ons eerste plekkie wat ons saam gekoop het. En dis ook die maand waarin ons seuntjie gebore gaan word.


Die 1ste Julie breek aan en daar is baie wat gedoen moet word. Maar tussen al die stres en harde werk is ons opgewonde. Eerstens moet die groot trek plaasvind. Gelukkig spring ons familie in en help links en regs om die huis reg en leefbaar te kry, want op 36 weke swanger is ek nie van veel hulp nie. Ek is moeg en my lyf is seer. Maar dis mos normale swangerskapspyne. By die werk is ek besig en probeer ek als afgehandel kry voor ek op kraamverlof gaan. Tussenin moet ek nog my studies ook inpas en skryf ek eksamen die 8ste Julie.


Alles is bietjie te veel op een slag en my gestel is af. Ek voel nie heeltemal lekker nie en skryf dit toe aan al die spanning. Maar toe ek begin hoes is daar iets binne my wat begin knaag.


Dis Saterdagoggend. Ons het 'n ellelange te doen lysie waaraan aandag gegee moet word. Die babakamer moet opgemaak word en daar is goedjies wat nog gekoop moet word. My en ons seuntjie se hospitaalsakke moet nog gepak word en ons moet winkels toe vir al die benodighede. Ons het nie kos in die huis nie aangesien ons eers vir 6 weke by my skoonouers gebly het voor ons by ons huis kon intrek. Ons is vroeg op, maar die feit dat ek nogsteeds nie lekker voel nie, pla my. My man sê uiteindelik dat ek my swaer moet laat kom. Hy is 'n verpleegkundige en kan 'n covid toets doen. Terwyl ons vir hom wag pleit ek by die Here dat dit net negatief sal wees. Van alle tye is dit nou díe slegste tyd om covid te kry. Met my laaste scan by die dokter het hy my nog net so 2 weke gegee voor ek moontlik in kraam kan gaan. En ek het myself so mooi probeer beskerm. Ek is net werk toe en huis toe, maar dra my masker ten alle tye by die werk en gebruik my sanitiser sonder skaamte. My grootste vrees is om covid te kry en my man dan aan te steek. Hy het asma en ons weet nie of sy longe dit sal kan hanteer nie.


My gebede is smekend. Die toets word gedoen op my en my man.


Positief. Ons albei.


En ons hele wêreld gaan staan stil.


My hart sak in my skoene. Teen die tyd is ek al vir 'n tyd lank siek. Daar waar ek al moeg gevoel het met die trekkery, maar gedink het dis net oor die swangerskap. In daai tyd was my en my man se hele familie al by ons nuwe huis. In kontak met my. En ek stres dat hulle ook gaan siek raak. My man voel genadiglik nog nie sleg nie en ek bid dat dit net so sal bly. Dat hy een van hulle sal wees wat geen simptome sal wys nie. Asseblief, Here, want ek is bekommerd oor sy longe.


Ek sukkel met koue koors. My kop voel nie lekker nie. Tussen deur werk ek van die huis af. Ek skryf my eksamen. En ek bekommer my oor ons seuntjie. Ek mag nie vir 'n scan gaan tot ek deur my isolasie tydperk was nie. Met elke beweging binne my klou ek net vas dat dit 'n teken is dat hy nog oukei is.


My man begin noem dat hy nie so goed voel nie. Ek begin teen dit bid, maar tevergeefs. Hy raak siek. Ernstig siek. My swaer daag elke oggend en aand by ons op. Ons eetkamertafel lyk soos 'n apteek. Daar word soveel medikasie in my man se lyf gepomp. Ek bid. Hy kry fisio vir sy bors en longe. Ek bid. Hy stoom. Ek bid. Hoor die Here my?


Sondag. 18 Julie. Sy suurstofvlakke is laag. Te laag. My swaer noem dat hy moontlik hospitaal toe gaan moet gaan. Dis wat ons probeer vermy. Mense kom nie sommer weer uit die hospitaal nie. Ek moet vir hom 'n sak gaan pak. In die kamer baklei ek met die Here. Waar is Hy? Hoekom tree Hy nie in? Ek bel my skoonpa terwyl ek op die bed sit en huil.


Met my swaer se hulp kry ons alles onder beheer om my man vir nou nog uit die hospitaal te hou. Maar ek is bekommerd. Ek wil hom nie verloor nie. Kan nie. En sy seuntjie is oppad. Hy sien al so lank uit hierna.


Dag na dag is dit dieselfde roetiene. My swaer daag vroegoggend op om sy koors en suurstof te kom neem. Die suurstof begin verbeter, maar die koors wil nie breek nie. Die dae gaan verby in 'n blur. My skoonouers laai kos af, gaan doen die laaste aankope wat ons nog sou gedoen het. Die babakamer staan stil. Al waar daar beweging is, is tussen die slaapkamer en eetkamer - daar waar al die medikasie is.


Ek baklei met die Here. En ek baklei met myself. Die skuldgevoel sit soos 'n berg op my. As ek net myself laat toets het toe ek begin sleg voel het, kon ek my man al die lyding gespaar het. Oor en oor wens ek ons kon net teruggaan na begin Julie. Dat ek alles net kon oordoen.


Ons nuwe huis voel koud en of daar 'n groot donker wolk daaroor hang. Al die opwinding is weg. Ek is bang om in die aande te gaan slaap. Ek sit vir ure regop en hou my man dop. Maak seker hy haal asem. Elke aand bid ons. Ek salf hom. Ek smeek by die Here. Maar die koors wil nie breek nie. In die nagtelike ure sit ek regop en probeer hom afkoel met 'n nat lappie. Die gedagtes maal deur my kop. As ek maar net...


Ek doen niks in die huis. Alles staan net so soos almal dit gelos het nadat ons laat weet het ons is positief. Ek probeer die minimum beweeg en dinge optel. Ek wil net nie hê my water moet breek nie. Ek word in die nagte wakker met krampe en smeek die Here om ons net nog tyd te gee. Ek wil nie sonder my man gaan kraam nie. Ek wil hom nie ontneem van die oomblik waar sy seuntjie gebore word nie. Ek bid, smeek, huil, skel. Dis alles my skuld.


Ek voel beter en my isolasie tydperk is verby. Ek bel die dokter om te hoor of ek vir 'n scan kan kom. Ek wil sien dat my seuntjie oukei is. Ek kan oor twee dae kom. My man sukkel nog met sy koors en die hoes wil nie weg nie, maar hy begin ten minste beter voel.


Maar ons moet albei gesond wees vir hom om saam met my in te gaan hospitaal toe vir die geboorte. Ek vra die Here net nog tyd. Ek is op my senuwees soos ek die dokterspreekkamer binne gaan. Hy doen die scan. My vrugwater is min. Te min. Ek gaan nie nog 'n week so kan loop nie. Hulle gaan 'n induksie moet doen. Môre. Dit was nie die ooreenkoms nie, Here. Ek wou self hê my water moes breek. Ek wou hê ek en my man moes eers heeltemal gesond wees. Hy moet by my kan wees. Ek het geen idee wat my covid toets gaan sê nie. Blykbaar kan dit lank na jy al uit isolasie is nog positief wys. In daai geval is dit verby. Dan kraam ek op my eie. Ek is in 'n toestand.


Die ontvangsdame word ingelig van my induksie. Sy wil my stuur vir die covid toets, maar die dokter spring in. Ek het nou net herstel van covid en uit isolasie gekom en is dit nie nodig om 'n toets te doen nie. Dankie, Here!


Maar my man se koors is nog 'n bekommernis. Hy kry nog warm op tye en ons het geen idee wat sy lesing gaan wees wanneer dit by die hospitaal geneem gaan word nie.


Vrydag. 23 Julie. 04:30. Ons ry hospitaal toe. Ek hou my asem op terwyl ek die skerm dophou soos dit my man se temperatuur neem. 36.4. Dankie, Here!


05:00. Ons is ingeboek. Ek het nou vrede gemaak dat hierdie die dag is waarop ons seuntjie gebore word. Die dag wat die Here vir hom gekies het. Op die monitor langs my klop ons seuntjie se hart ritmies. My man is by my. Dit is al wat nou saak maak. Ons sien die son opkom deur die groot hospitaal vensters. Dis 'n nuwe dag.


'n Lang dag. Maar teen 16h00 lê ek met ons seuntjie in my arms. 'n Volmaakte mensie. Perfek in elke opsig. Ek staar na sy gesiggie en dankbaarheid teenoor die Here spoel oor my.


My man mag egter nie die Saterdag by my kom kuier nie. Sy hoes is nog nie weg nie en die hospitaal personeel voel dis veiliger vir almal dat hy eerder eers weer terugkom wanneer hy ons kom optel. Ons is teleurgesteld, maar dankbaar dat hy ten minste die geboorte kon ervaar. Dit was my grootste begeerte.

Hy en die familie spandeer die Saterdag om net weer orde in ons huis te skep. Ontslae te raak van al die mismoedigheid.


Sondag. 25 Julie. Hierdie was aanvanklik my due date. Maar nou gaan ek huis toe met ons seuntjie. Die son skyn buite. Ek stap by ons huis in. Die lig skyn in die gang af. Dit voel warm. Daar is nuwe lewe. Die donker wolk het gelig. Ek is bly om tuis te wees.


Dit was een van die donkerste tye in my lewe. Nog nooit het ek so alleen of ver van die Here gevoel nie. Ek het na Hom geroep maar dit het gevoel of Hy my nie hoor nie of ignoreer. Liggaamlik en emosioneel was ons afgetakel. Tydens isolasie het ek nie net afgesny van die wêreld gevoel nie , maar afgesny van die Here ook. Soos een van my gunsteling skrywers, Lysa Terkeurst, sê: "The enemy knows if he can isolate us, he can intimidate us. Confuse us. Deceive us." Dis sulke ware woorde. My geloof het gewankel. Die skuldgevoelens het my gery.


Ek het al hierdie idees gehad van hoe dinge gaan wees. Die opmaak van die babakamer. Die Pinterest-perfekte foto's van ons seuntjie se verskyning. Die regpak in ons huis. Orde skep by die werk voor ek op kraamverlof gaan. My lewe moet agtermekaar en beplan wees. Julie maand was alles behalwe dít.


Maar toe maak niks van daardie dinge uiteindelik saak nie. Wat regtig saak maak is 'n familie wat ons nie vir een oomblik in ons donkerste tye alleen gelaat het. Wat ingespring en gehelp het enige manier wat hulle kon en meer gedoen het as wat van hulle verwag is. Om my man net by my te gehad het vir die geboorte en 'n perfekte, gesonde seuntjie huis toe te kon bring - al is sy kamer nog nie gereed nie. Om gesond te wees en asem te kan haal. Dankbaarheid dat niemand met wie ons in daardie tyd in aanraking was voor ons diagnose die virus opgetel het nie.


Wat regtig saak maak is dat ons 'n groot, goeie, getroue God dien. 'n God wat ons nooit verlaat of in die steek laat nie. 'n God wat wel ons gebede verhoor al voel dit nie altyd so of lyk soos wat ons gedink het nie. Hy is goed selfs in die donkerste tye. Hy is goed selfs al werk dinge nie uit soos ons beplan het nie.


Ons lewe met al hierdie verwagtinge van hoe dinge moet wees. Prentjie- mooi en perfek. Sosiale media moet Pinterest foto's reflekteer. Al die likes en comments word dopgehou. Jy moet altyd reg lyk. Hare en grimering gedoen. Jou huis moet in orde wees. Goed moet nie rond staan nie. Dis hoe ons dinge wil hê, maar die vyand kan alles deurmekaar kom krap.


Maar ons God kan enige situasie gebruik om Sy goedheid en getrouheid te wys, en ons ook te kom herinner watter dinge in die lewe regtig saak maak. Sonder Hom sou ons dit nie deur hierdie tyd gemaak het nie.


Dit het my geleer om opnuut na die lewe te kyk. Na dinge wat ons as mense so maklik ontstel en myself die vraag te vra: wat maak regtig saak?

837 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page