Wat van ons ‘spring clean’ ons harte ook?
Alhoewel ons nog baie wintersdae tans hier in die Kaap beleef, is ek dankbaar vir en opgewonde oor die warm weer wat besig is om kop uit te steek. En saam met dit, het die ‘spring cleaning’-gogga my ook sommer behoorlik gebyt.
Vir die eerste keer in ‘n jaar vandat my seuntjie gebore is, vind ek tydjies tussendeur om ‘n laai of ‘n kas te begin uitsorteer en regpak. Net as ‘n kant nota: die maand wat my seuntjie gebore is, is dieselfde maand wat ons in ons nuwe huis ingetrek het én positief vir covid getoets het. So daar is nog bokse in my huis wat tot hede nog nie eers oopgemaak is nie. Dus om net een laai uitgesorteer te kry, is vir my ‘n groot oorwinning.
So nou met die uitpak en uitgooi, vind ek vreemd genoeg ook my woord vir die jaar (genoeg) hier betekenis kry. Ek besef net opnuut hoeveel onnodige goed ek deur die jare opgegaar het en dinge wat ek in jare nie gebruik het of nog ooit nie. Maar altyd is daar verskonings om dit te hou. Ek het egter nou besluit dis tyd om te laat gaan en werklik skoon te maak. Amper die idee om ‘n ‘blank canvas’ te skep en nuut te begin deur dinge te laat gaan wat geen nut dien nie en net dinge by te voeg wat waarde tot my lewe gaan voeg.
Met dit alles in gedagte besef ek dat ek meer as net laaie en kaste wil regpak. Ek wil ook my hart ‘n goeie ‘spring clean’ gee. Tydens ‘n onlangse gesprek met ‘n vriendin het ek aan haar genoem hoe haar outentieke menswees my inspireer. Wat jy sien is wat jy kry. En sy sal skaamteloos onverskoning vra as sy voel sy het jou enigsins te na gekom. Selfs as dit nie eers werklik haar skuld was of sy verkeerd was nie. Om haar kant en haar hart skoon te hou, is iets wat sy baie waardevol ag.
Hierdie het my gemotiveer om ‘n ou skoolvriendin te nader nadat ons paaie ‘n hele paar jaar terug geskei het. Ek het vir al die jare so skuldig gevoel en geglo dat daar iets spesifieks was wat ek verkeerd gedoen het. Uiteindelik het ek die moed bymekaar geskraap en vir haar ‘n boodskap gestuur en onverskoning gevra. Haar positiewe reaksie op my boodskap, het gevoel of daar ‘n berg van my skouers gelig word. Ek het lig gevoel en geweet dat hierdie gevoel is waarmee ek deur die lewe wil gaan.
Die dat ek besluit het dat my hart ‘n goeie skoonmaak nodig het. En ek glo baie van ons harte kan doen met ‘n goeie ‘spring clean’.
Dis tyd om ontslae te raak van dinge in ons harte wat ons nie baat nie. Dinge soos bitterheid, onvergifnis, woede, ongeduld, frustrasie, irritasie. Hierdie dinge dra geen waarde by tot jou lewe nie en, inteendeel verhoed dit jou van ‘n lewe van vrede en vryheid. Dit neem plek op in jou gedagtes en skep nie ruimte vir positiwiteit en hoop om daar te groei nie. So leef ons in depressiewe en mismoedige toestande.
Ek weet dis nie maklik om seer en bitterheid sommer net te laat gaan nie. Vra my maar, ek was daar (op tye sukkel dit nogsteeds), maar wie benadeel hierdie gevoelens regtig? Hoofsaaklik myself, en baie maal moet my naaste liefdes ook daaronder lei. Is dit die moeite werd? Hoeveel beter gaan dit nie voel om ‘n skoon hart te hê nie? Een wat nie oordeel nie, wat nie vashou aan oortredinge nie, wat nie floreer op ongeduld, onvergifnis en ongelukkigheid nie.
Glo my die gevoel om sonder al hierdie negatiewe dinge rond te loop is soveel wonderliker as die gevoel wat ons baie maal het dat ons ‘n reg het om so te voel en dat ons nie dit wil opgee nie, want dan is dit of ons sê ‘hulle’ het gewen.
Ons stap nou na die einde van die jaar se kant. Hoe wonderlik sal dit nie wees om die nuwe jaar lig en vry in te gaan nie? Vry van al die negatiewe gedagtes en gevoelens wat ons terughou en swaar deur die lewe laat loop. Wil jy nie saam met my jou hart skoonmaak nie? Dan stap ons die nuwe jaar saam in met nuwe moed en hoop om beter te wees. En met ‘n mooi hart wat Jesus se liefde uitstraal na almal rondom ons.