Wees ’n ‘Kappertjie’ vir jou “Kaktus”
Met ons 7de huweliksherdenking om die draai, kan ek nie help om te wonder watter kant van die maer -of vet jare ek en my man nou eintlik saam beleef het. Maanskyn en rose is nie wat ek ons huwelik sal beskryf nie. Maar ons het ons self darem ook nie élke aand aan die slaap gehuil nie.
Dit laat my wonder waaraan ons ’n goeie huwelik behoort te meet? Huwelike op sosiale media? Ons ouers se huwelik? Ons vriende se huwelik?
Daar is soveel huwelike. Kulturele huwelike. Godsdienstige huwelike. Gemengde huwelike. Gereëlde huwelike. Binne-gemeenskaplike huwelike. Buite-gemeenskaplike huwelike. As-gevolg-van-gemeenskap-huwelike. Die hartseer realiteit is dat soveel huwelike nie hou nie.
Omdat geeneen van ons huwelike teen ontrouheid, liefdeloosheid, selfsug en talle ander verwoestende karaktertrekke gevrywaar is nie, bevind ek my self gereeld voor vrae soos: “Is ons op die regte pad?” “Is my maat gelukkig?” “Is ék gelukkig?” “Verdien hy beter?” “Verdien ek beter?” “Is ek mooi genoeg?” “Snaaks genoeg?” “Slim genoeg” “Maer genoeg?” “Góéd genoeg?”
Vandag praat ek nie van “genoeg” as ma of dogter of vriendin of kollega nie. Dit is in ons aard om híérdie gedeeltes van ons “tuin” skoon en netjies genoeg te hou. Hierdie “plante” is voor in ons tuin. Ons gee genoeg water. Ons gee genoeg bemesting. Ons versorg dit genoeg, want die bure en verbygangers síén hoe die voorkant van ons tuine lyk. En hulle práát.
Vandag verwys ek na daardie plante in ons agtererwe. Daardie plante wat níé deur die bure gesien word en wat nie toeganklik is vir kuiergaste nie. Daardie plante wat toe gegroei is en ons nie genoeg in standhou nie. Daardie plante waarby ons selde gaan stilstaan omdat ons bang is vir wat daar krioel en aan die uitbroei is.
As ons anoniem moet eerlik wees, is ons huwelike soms nie die groen koringland waarvan ons eens gedroom het nie. Soms voel ons vertrapte vloerlap-harte leeg en dor. Soms kyk ons moedeloos deur die kombuisvenster na ons agterplaas-huwelik en sien ons net ’n droë stukkie grond vol onkruid en doring bossies daar waar eens op ’n tyd lowergroen gras was. Daar waar ons spontaan en veilig kon neerval en onsself wees. Waar ons harte vol en ons glimlagte breed was.
Mooiste vrou, het jy geweet dat jý die potensiaal het om van hierdie onbewerkte lappie grond weer die mooiste tuin te maak? ’n Tuin só mooi dat jy graag daar wil tyd deurbring. Só verwelkomend dat jy wil stop en die blomme ruik.
Naïef is ek nie. Ek weet dat ons almal ongelukkig nie met die lelie van die dale getrou het nie. Ons het dalk aanvanklik so gedink, maar nou sit ons jare later met ’n Kaktus vol dorings – gereed om ons seer te maak wanneer ons te naby kom.
Dalk voel jy vandag dat jy sommer met ’n John Deer grassnyer of gifspuit jou agterplaas wil invaar en voor die voet ontbos. Dalk wil jy jou tuin wortel en tak uitroei en die kaktus vervang met Roos bome of Bougainvillea. Al wil ons onsself anders wysmaak, moet ons onthou, dat selfs rose en Bougainvillea dorings het, met tye seermaak en versorging nodig het.
Mooistevrou, as jy vandag voel dat jou enigste uitkoms is om jou Kaktus te vervang, te verruil of te verlaat, wil ek jou vra om vir nog een seisoen te saai. Saai nóú goeie saad en wag geduldig vir jou oes om met God se genade op te kom. As die saad wat jy tot dusvêr gesaai het, nie die gewenste oes opgelewer het nie, wil ek jou uitdaag om jou natuurlike, godgegewe kwaliteite te gebruik om ’n gunstige omgewing vir jou Kaktus te skep waarin hulle kan floreer. Hier is ’n paar praktiese wenke om doeltreffend vir jóú Kaktus te sorg:
1. Laat die son op hulle skyn. Hul doen goed in die kollig. Spog met jou Kaktus. Plant hulle waar die bure kan sien. Skep ’n plek in jou tuin spesiaal net vir hulle. Kaktusse wys graag hoe groot en sterk hulle is. Elke Kaktus wil glo sý dorings is die grootste en sommige sal selfs tot almal se voordeel en verbasing blom wanneer hul in prima kondisie is. Moenie al die plante in jou tuin versorg en jou Kaktus verwaarloos omdat jy oortuig is hulle is geharde plante en kan na hulle self kyk nie.
2. Plant jou Kaktus in ’n rotstuin met Kaktus-spesifieke bemesting. Gee vir hulle die voeding en spasie wat hulle nodig het om die beste Kaktus te wees wat hulle kan. Daar is ongeveer 2000 kaktus- spesies, elk met hul eie unieke behoeftes en kwaliteite. Weet jy wat jou Kaktus nodig het, waarvan hy hou en wat sy groei stimuleerder is? ’n Potjie golf, om af en toe ’n biertjie na werk te drink, om in vrede die garage reg te pak, in die tuin te werk of te gaan draf of fietsry is dalk net wat jou Kaktus nodig het om van sy ekkerigheid ontslae te raak, te herlaai en met ’n beter gesindheid huis toe te kom. (Alles natuurlik binne gesonde en regverdige perke.) Gee vir jou Kaktus wat hy nodig het. Bedien hom in sý liefdestaal. Wees diensbaar, tel jou woorde en eer hom daarmee, wees beskikbaar en spandeer tyd saam met hóm, wees liefdevol of koop vir hom iets in sy Takealot ‘wish list’. Bogenoemde is nie altyd maklik nie, maar dit is moontlik.
3. Die regte hoeveelheid water is belangrik. Party Kaktusse kan met die minimum water klaarkom, ander het gereeld water nodig. Om hul uit te droog vir ’n lafenis, is nooit ’n goeie idee nie. “Water”, een keer elke ander week, is waarskynlik ’n bietjie min. Daar is altyd iewers ’n buur tannie wie presies weet wat jou Kaktus nodig het en wie se hande jeuk om sy dors te les. Moenie toelaat dat jou Kaktus uit ander fonteine drink nie. Wees ook versigtig om nie jou Kaktus te verdrink nie. Nie met woorde, pligte of verwagtinge nie. Ten spyte van hul harde voorkoms, is hul onder die oppervlak uiters sensitief.
4. Wees versigtig en sit maar handskoene aan wanneer jy met jou Kaktus werk. Om sy onthalwe en om joune. Kaktusse is kenmerkend vir hul dorings, elk uniek in sy grootte en vorm. Hoe langer jy vat om jou Kaktus te versorg, hoe harder en droër raak hy. En hoe harder en droër die Kaktus, hoe seerder maak die doring. Almal het soms ‘n bietjie ‘TLC’ nodig. Hê die moeilike gesprekke. Maak jou behoeftes bekend. Vra om verskoning wanneer jy moet. Dit is die klein jakkalsies wat die wingerd verwoes.
As daar een plant is waarmee ek vroue die beste kan assosieer is dit ‘Kappertjies’. Ons gee in oorvloed en vra amper niks inruil.
Kappertjies groei byna enige plek – vrouens pas aan by hul omstandighede en maak die beste van ’n slegte saak.
Kappertjies het nie baie water of voeding nodig nie – dit verg nie veel om ’n vrou wat naby aan God leef tevrede te stel nie.
Kappertjies saai hulle self en groei welig– vrouens kan regtig álles doen.
Kappertjies ruik en lyk vrolik en smaak heerlik – vrouens hou van mooi aantrek, fraai lyk en lekker ruik.
Kappertjies is eetbaar en ’n natuurlike antibiotika – vrouens voeg waarde toe en is natuurlike versorgers.
Kappertjies lok insekte van ander plante af weg – vrouens dra die laste van almal om haar.
Maar ongelukkig, verkies Kappertjies swak grond bo vrugbare grond – vrouens kies nie altyd die beste lewensmaat nie.
Die ideaal is om voor die huwelik te besin of jou maat regtig die Kaktus vir jóú is. Dit is belangrik om jouself te ken en dan dienooreenkomstige waardes en kwaliteite te identifiseer wat jy in jou lewensmaat wil hê.
Indien jy reeds aan iemand verbind is, beteken dit egter nie dat dit te laat is om jou Kaktus te kondisioneer en julle met mekaar te versoen nie. Soms verloor ’n mens jou passie vir tuinmaak. Maar jy kan dit altyd weer vind.
As jy vandag wens vir ’n beter en ‘ligter’ huwelik en voel dat jul huweliksboot al hoe nader aan die rotse beweeg wil ek jou vra om daadwerklik te oorweeg watter dorings régtig dorings in jou vlees is. Is daar eienskappe in jou maat waarvoor jy elke nou en dan die ander wang kan draai, die tweezer kan uithaal en stilletjies die klein dorinkies uittrek? (Oorkombare, slegte gewoontes soos om nie die toiletsitplek te laat sak of die vullis sak buite te sit nie.) Of is daar dorings aan jou maat wat só seermaak dat jy infeksie kry en stukkies van jouself moet weg kerf om die dorings uit te kry? (Skadelike karaktereienskappe soos oneerlikheid, liefdeloosheid, verslawing, agressie.)
Dit is dáárdie dorings wat met wortel en tak uitgeroei moet word deur daadwerklike optrede, openlike gesprekke, bereidwilligheid en onophoudelike gebed.
Wees egter gewaarsku – sommige dorings is so integrale deel van ‘n Kaktus, dat hulle nie die proses van dorings verwyder sal oorleef nie. Hul identiteit is gekoppel aan hierdie dorings. Trots is gekoppel aan hierdie dorings. Indien hul enigsins instem en toelaat dat hierdie dorings verwyder word, moet jy besef dat hul blootgestel is aan die son en wind en weer. Selde is sterk genoeg om hul foute te erken en ten goede te verander. Laat God die uittrek werk doen. Hy weet watter dorings kan bly en watter sal moet gaan. Hy werk sag en stil. En anders as ons, het Hy groenvingers as dit by Kaktusse kom.
Alles in ag genome en irrelevant hoe sterk, aanpasbaar en onafhanklik kappertjies is, beteken dit nie dat ons nie af en toe ook ’n bietjie water of skadu nodig het as die somerson se hitte op hul losbrand nie. Dit beteken nie dat ons onvervuld in die huwelik moet staan en ons rug breek omdat ons Kaktus nie buigsaam is en van mening is dat hy al een is wat geregtig op versorging is nie. Kappertjies verdien ook water en voeding, versorging, beskerming en ‘n tuinman wat bereid is om in sy tuin te werk, dit in stand te hou en die onkruid weg te hou.
Met ons huweliksherdenking om die draai, maak ek my blind vir wêreldse standaarde vir die huwelik en kies ek om ons huwelik te meet aan die troubeloftes wat ons 7 jaar gelede voor God en aan mekaar gemaak het. “Ek beloof om jou lief te hê wanneer dit goed gaan en sleg gaan. Wanneer ons gesond is en wanneer ons siek is. Wanneer ons ryk is en wanneer ons arm is. Tot die dag wat die dood ons skei.”
Mooistevrou, ek daag jou uit. Wees ’n Kappertjie vir jou Kaktus en staan regop vir jou beloftes. Maar as hierdie belofte jou breek en jou Kaktus onsnoeibaar bly, moet jy weet dat daar in God se tuin rus, vrede, beskutting en uitkoms is. Gaan vind jou wysheid by Hom wat Hemel en Aarde, Kappertjies en jou Kaktus gemaak het.