top of page

Wenslysies en snelfunksies vir 'n besige lewe

Met Black Friday wat koop-paniek saai, is al die raap-ape se wenslysies op Shein en Takealot stampvol.

Met Kersfeesversierings wat reeds in elke winkelsentrum glinster, stuur kinders, hoopvol, elle-lange wenslysies na “Kersvader”.


Dit het my laat dink oor hoe my wenslysie sou lyk as ek dit iewers heen kon stuur.


Ek weet nie van jou nie, maar van alles waarvoor ek kan wens, wens ek hierdie tyd van die jaar dat daar ’n "refresh" funksie vir my kop was. ’n Funksie wat my kon help om die honderde denkbeeldige foldertjies in my ooraktiewe brein toe te maak. Sodat ek my denke kan orden. En oor begin. Nie van vooraf nie. Oor.


Om die waarheid te sê, is daar nogals baie sleutelbord snelfunksies op my rekenaar wat ek wens ek in my lewe kon toepas.


Ek wens dat daar ’n “silent” funksie was sodat ek die onophoudelike ‘white-noise’ van die wêreld kon uit doof.


Ek wens dat daar ’n “select all” funksie was sodat ek almal wat hulp nodig het, kon help. Dat ek vir almal wat vra, kon gee.


As ek terug kyk oor die jaar, wens ek veral dat daar ’n “restore recycle bin” funksie was sodat ek die tye wat ek wanaangewend en verby gewens het, kon terug kry. 


Mooistevrou, dalk wens jy vandag vir ’n “anti-virus” funksie sodat jy jou gesondheid kon terugkry. Net kon beter voel. Soos jouself kon voel. Vir ’n rukkie vóél.


Dalk wens jy vir ’n “rebuild” funksie om vriendskapsbande en verhoudinge wat skade gely het, te herstel.

Dalk wens jy vir ’n “undo” funksie om al die verkeerde besluite wat jy geneem en die oordeelsfoute wat jy gemaak het, te kon terugneem.


Vir ’n “forward” funksie sodat die wag seisoen, pars seisoen of groei seisoen bietjie korter voel.


Vir ’n “rewind” funksie sodat jy al die persoonlike en finansiële doelwitte wat jy in Januarie gestel het, meer ernstig kon opneem en nou in ’n beter finansiële (en fisiese) kondisie kon wees.


Vir ’n “cut” funksie sodat jy die seerkry tye en seermaak mense bloot net uit jou lewe kon sny.


Dalk wens jy vir ’n “task manager” funksie sodat jy al die oorbodige aktiwiteite en programme kon beindig.


Dalk wens jy soos ek vir ’n “brighter display” funksie sodat jy God se wil vir jou lewe duideliker kon sien.


Dalk wens jy vir ’n “merge” funksie sodat jy en jou lewensmaat net weer by mekaar kon uitkom.


Dalk wens jy vir ’n “update” funksie sodat jou huis sy broodnodige laag verf kan kry, nuwe tekkies vir die kinders, ander haarstyl, voller spens rakke.


Dalk wens jy vir ’n "translate" funksie, sodat ander sal hoor wat jy sê en verstaan wat jy bedoel.


Dalk wens jy vir ’n “show comment” funksie sodat jy kon onderskei wie se woorde guns inhou en wie se woorde jou uitmekaar trek.


Vir ’n “data integrity” funksie sodat jy kan identifiseer wie se vriendelikheid goedkoop en wie se vriendskap duur is.


Vir ’n “What-if” funksie om jouself te beskerm teen mense wie hulle harte sluit wanneer dit op jou hart druk om uit te reik, te bid, te nooi, te gee, te vra.


Vir 'n "filter" funksie sodat jy die regte besluit, vriende, en geleenthede makliker kon opspoor.

Mooistevrou,


Ons ken nie al die snelfunksies nie. Maar ons ken die Een wat ons gemaak het. Daar is slegs een funksie wat ons werklik nodig het en ons gerus met meer oorgawe kan gebruik – “contact support” funksie. 


God staan met Sy arms oop en vra “Hoe kan Ek help?” Hy het al die antwoorde. Hy ken al die truuks in die boek. Al wat ons hoef te doen, is om met Hom te praat. Ons hoef nie te wens nie. Ons kan net vra.

Mooistevrou, ek wil jou aanmoedig om jou vingers van die sleutelbord van jou lewe af te haal. Jy was in elk geval nog nooit in beheer nie. God is jou “Designer” en “Developer” en met Hom aan stuur van sake sal jy al die funksies kan verrig voorvoor jy geroep is.


Psalm54:4: “ Surely God is my help; the Lord is the one who sustains me.”


Hebrews 13:6: “The Lord is my helper, I will not be afraid.”


Psalm 121:2: “My help comes from the Lord, Who made heaven and earth.”


Mooistevrou, wanneer jy wil moed verloor, onthou dat God se liefde vir jou groter is as jou teleurstellings en dat dit wat Hy vir jou beplan beter is as dit wat jy vir jouself kon droom.


Wees geduldig. God is besig om vandag se uitdagings te gebruik om jou voor te berei vir môre. Hy is besig om jou toe te rus. Hy wat alles laat groei en lewe sal jou help om vrug te dra.

Vertrou die proses – selfs al sien jy nie nou die vordering nie.


Alles wat met ons gebeur. Wat ons moet trotseer. Oorkom. Verduur. Vergewe. Verloor. Is nie toevallig nie. Want in die swaar. Die seer. Die sukkel. Lê lesse, getuienis en God se nabyheid. Jy is nie alleen nie. Jy is net te besig.


Te besig met werk. Met kinders. Met sosiale media. Met wrokke hou. Met planne maak. Met skoonmaak. Met skate op aarde bymekaar maak.


Ons het so gekondisioneer geraak om te multitask, dat ons nie meer kan stil sit sonder om skuldig te voel nie. Daar is eenvoudig net heeltyd iets om te doen – terwyl jy iets doen.

My wens vir my. Vir jou. Is dat ons vrede in die middel van die chaos sal vind.


Dat ons sal stil raak. En weet.

297 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page