top of page

YAHWEH SE TYD IS JOU TYD

Daar is min dinge wat my so vinnig uit my gemaksone dwing, soos 'n automatiese skuifdeur. Ja, jy lees reg. 'n SKUIFDEUR!


Ek weet nooit of daai glasdeure gaan oop maak as ek net aanhou loop nie. Ek kan egter nie huiwer as ek wel aan die ander kant van die deur wil uitkom nie. Ek moet in daai oomblik net glo en vertrou dat die deur sal oopgaan. Dis wel baie makliker gesê as gedaan. Tog, maak die deur elke keer op die regte tyd oop.


Hoeveel keer in ons lewens verloor ons nie ook maar so nou en dan vertroue wanner dit kom by die deure wat Yahweh vir ons sal oop maak nie? Ons glo dat die deur sal oop gaan, maar as dit nie volgens ons plan en tyd gebeur nie, is ons vinnig om daai deur self te probeer oop maak. Of is dit dan dalk oop forseer? Ons is so geneig om alles op ons tyd te wil laat gebeur, dat ons vergeet wat dit beteken om te vertrou en volkome oor te gee.


Ek het beslis al baie keer in my lewe getwyfel of daai deur wat ek aan Yahweh opgedra het, gaan oopgaan. Ek het al gehuiwer om dit te nader en gesukkel om beheer oor te gee.


Ek het ook al gevra en gewonder;

“Hoekom gebeur dit nie vir my nie?

Hoekom gaan almal om my se deure oop en myne bly toe?

Het ek iets verkeerd gedoen?

Gaan dit ooit verander?”.


Dis seker een van die moeilikste dinge om beheer oor te gee en blindelings te vertrou.


Yahweh het egter sonder uitsondering elke keer, op die regte tyd, die regte deur oop gemaak.

Met tyd het ek geleer dat Yahweh se tydsberekening en plan vir my lewe altyd tot die regte deur lei.


Yahweh wil dalk vir jou in jou wagtydperk iets leer voordat hy jou deur oopmaak. Die Pottebakker wil jou dalk voorberei en seker maak dat die klei genoeg gebrei en gevorm is.


Wanneer die tyd reg is, sal Yahweh die regte deur oop maak en vir jou aan die ander kant wag.


“Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” -Matthéüs 6:8


Vertrou op Yahweh en glo dat jou deur op presies die regte tyd sal oop gaan.

Jou tyd is nie altyd Yahweh se tyd nie. Maar Yahweh se tyd is ALTYD jou tyd.


926 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page