
Women who inspire
By sharing their personal stories, motivation and inspiration
Dis die kleinste dinge in die lewe wat vir my saak maak, en wat my maak wie ek eintlik is. Bedags hou ek my besig as ‘n Krediteure Klerk en snags is ek ‘n boekwurm besig om BCom Finansiële Bestuur Graad klaar te maak.
Ek is verslaaf aan koffie, spandeer graag tyd saam my hartsmense en jy sal my soms met ‘n pakkie suurwurms in my hand sien.
Ek is n kreatiewe denker en vra baie vrae. Soms skep ek ingewikkelde oplossings vir eenvoudige probleme, maar dit is lekkerder op die manier (want dit gaan alles oor die reis). Ek droom daarvan om kanse te waag, ek is altyd op soek na avontuur, en ek hou daarvan om nuwe dinge te leer. Ek het beslis nie al die antwoorde nie, maar die lesse wat ek geleer het en (uit ander se ervarings), het my goed geleer. Ek is miskien jonk, maar ek is ook wys. Ek het nog altyd ‘n passie vir prosa en poësie en ek hoop om eendag my eie boek te publiseer.
My storie begin met ‘n passie vir droom.
Dis ‘n skrywershart.
Dis al.
Ek is tans 'n Akteseketaresse by 'n prokureursfirma in die Weskaap. My passies strek egter ver wyer as admin. Van jongs af het ek 'n groot liefde vir skryf. Ek wil deur my skryfwerk ander vroue inspireer, bemoedig en hopelik 'n verskil maak. Ek is ook besig met 'n Christelike Beradingskurses wat ek in die toekoms wil gebruik om in mense se lewens die waarheid te kom spreek. Ek is meer van 'n introvert, maar one-on-one kan ek baie gesels en sal ek ook altyd luister, selfs al het ek nie miskien op daardie oomblik raad nie. Verder geniet ek dit om te lees, koffie te drink, kreatief te wees en mooi dinge te skep. My strewe elke dag is net dat ander Jesus deur my sal sien. Hy is ons antwoord en die een op Wie ek kan vertrou ongeag wat gebeur.
Hello liewe Mooistevrou. Ek is Bernice Schutte.
Ek glo in die woorde Fearless. Fit. Female. My missie in die lewe is om elke droom voor my vreesloos aan te pak want ek weet God sal nie ‘n droom in my hart plaas sonder ‘n doel nie. Om elke dag hard te werk om die fikste ( ja fisies, maar ook geestelik) beste weergawe van myself na te jaag, en dan ook om elke oomblik van vrouwees te embrace - al benodig dit partykeer ‘n ekstra koffie of 3.
​
Ek was n Radiografis wat nou bevoorreg genoeg is om Mediese IT te kan doen en my passie vir x-strale ten volle te kan uitoefen in my droomwerk wat verskeie side-hustles insluit.
​
Ek het ‘n ongelooflike dogtertjie wat sterk oppad is om ‘n tiener te word en vir wie ek die beste voorbeeld wil wees sodat sy ook eendag ‘n sterk, selfstandige vrou kan wees met die regte waardes en ambisie om haar volle potensiaal te kan bereik.
​
Ek het die Mooistevrou platform ontdek in ‘n seisoen van my lewe waar my ek daarna streef om soveel vroue daarbuite se harte te wil aanraak en te inspireer om hulself te wees, ongeag wat die wereld van vandag vir jou se wie en wat jy moet wees. Net soos seisoene verander, moet ons as vroue besef dat elke seisoen het ‘n doel en dat ons nie virewig in dieselfde seisoen vasgevang sal wees nie. Daarom glo ek in self verbetering en werk elke dag baie hard daaraan om my volle potensiaal te bereik want ek glo God het een amazing roeping vir my.
​
Mooistevrou, mag my woorde, ervaringe en my eie-ek-wees jou inspireer om ook jou innerlike Fearless.Fit.Female na te streef.
Hallo julle! Dis ek, Sanna.
​
Soet Sanna. Stoute Sanna. Slim en Suksesvolle Sanna.
Elke nou en dan – Stil en Stom Sanna.
Ek is meestal - Soekende Sanna.
Meer as wat ek wil - Sukkelende Sanna.
Baie dae, Stukkende Sanna.
Ek is God se Sanna, Mamma-Sanna vir ‘twee-onder-twee’ en Susanna vir die wonderlikste man.
My lewe is ’n padkaart vol kronkels en draaie. My keuses is die weg. God is my Leidsman. My Bybel my kompas. My vriende en familie, my medereisigers. Ek hoop die Hemel, my eindbestemming.
​
Ek het al bietjie grondpad gestap. Soms stilgestaan op die snelweg. Partykeer in die vinnige baan beweeg. Daar was dae wat ek die afdraai gemis het en ompaaie moes stap. Meeste van die tyd staan ek besluiteloos voor die kruispaaie van my lewe. Daar is tye waar ek op onvanpaste plekke U-draaie moet maak en uitswaai vir ’n onverwagse slaggate.
​
Ek het al baie mense met ’n glimlag tegemoet gestap. Nog meer met ’n seer hart agtergelaat. Daar was mense wat vir my ’n lig op my pad was. Daar was ander wat my lig wou uitdoof. Ek het al gehardloop en gedrafstap. Soms gekruip. By tye net stil by God se voete bly lê.
Die pad is lank en onvoorspelbaar, daarom kies ek om lig te reis. Ek pak die herinneringe van die mooi oomblikke in my tas. Ek los dié wat seermaak agter. Ek soek na vrede en vergenoegdheid en probeer om elke dag in dankbaarheid te leef. Nederig oor waar ek begin het. Dankbaar om tot hier te kon kom. En hoopvol oor waar ek die laaste stof van my voete gaan afskud.
​
Ek is kinderlik opgewonde om my lewensreis met jou te deel, Mooiste Vrou. Die soet. Die bitter. En alles tussenin.
Hello! Ek is Rouxnette, 'n sondaar wat overdose op genade. Ek funksioneer op koffie en rooiwyn, wat ookal die dag vereis. Digkuns en musiek is my vrede wanneer woorde min en gedagtes oorverdowend raak, terwyl my familie & vriende my veilige hawe vir elke enkele deel van myself is - die stil, die spontaan, die te veel & te min, die akward, die trane van lag en huil, die dele waarvan ek hou, die dele wat ek vermy en alles tussen in. Hulle is ook die rede agter elke uitbundige ugly public laugh wat ek al bemeester het & elke kosbare herhinnering wat ek die voorreg het om vandag, en elke ander dag te kan vertel. Ek glo grace fills the gaps, elke keer. Ek glo in skaterlag, en is soms te veel, te vinnig - maar eerder alles en meer as lou-warm. Mense maak my gelukkig, en hulle diere selfs meer. Bome & liggies is my gunsteling. My lewe begin nie waar die teerpad eindig nie, my lewe is in elke vreemdeling se glimlag en elke liedjie wat ek kliphard in die kar perform, maar die Here voel ekstra naby tussen bosse & bome. Titels is irrelevant, die lewe is 'n avontuur en alles gaan oor my Skepper, om Hom te ken en te verken. Ek wens vir 'n koffie date saam met Jesus, maar selfs in die lewe se onbekende seisoene, besef ek meer as ooit dat ek nes jy, Mooiste Vrou, flawed en still worthy is in hierdie grootste geskenk genaamd die lewe, 'n ontdekkingsreis toegedraai in kleurvolle linte van genade. Dankie dat ek saam met julle mag wees. Deel wees. Hier wees. Vrou wees.Al my liefde,Rouxnette ♡
Ek is Chantelle Coetzee.
Ek werk in die korporatiewe wêreld. Ek geniet die dieper dinge in die lewe. Sielkunde en mense fasineer my geweldig maar my liefde vir diere staan uit.
Ek is ’n intro- ekstrovert.
Musiek is my daaglikse kos asook ’n lekker koppie koffie .
Ek is ’n baie reguit persoon maar dra my hart op my mou.Die lewe het my al ’n paar keer geruk. Dit het my net sterker en wyser gemaak om die vrou te skep wat ek vandag is.Van kleins af geniet ek dit om te skryf.
Ek het ’n passie om ander te help al is dit net om te luister. Die lewe is soos ’n “nickerball”, hy breek al jou tande maar jy hou aan kou- Oom Sydney Keyser – Konings.
Ek’s Zandré, ‘n tuis-bly mamma van ‘n twee-jarige seuntjie en getroud met my beste maat. Ek lief lees, reis, skryf en natuurlik ‘n sessie by enige spa is altyd ‘n lekkerte.
Mense wat jok, vriende wat skinder en vals familie is vir my ‘n absolute neé!
Ek wil glo dat ek die wêreld kan red en elke bietjie maak ‘n verskil. Enige straat-brak en hasie sonder ‘n huis het my maklik in trane.
Ek glo in voel goed, lyk goed!
Trauma, moeilike tye, pyn en verlies is die koekie-drukkers van jou lewe. “Embrace and bake.” Ek deel graag my lewens-ervarings, my struikelblokke, my kinkels en kabels. Dis my “healing” en hopenlik vir iemand ‘n stukkie hoop of hulp.
Soms vind ek dit makliker om my hart neer te lê op papier. Ek is eerstens God se dogter, ‘n vrou aan ‘n wonderlike man en ‘n mamma vir ‘n liefdevolle dogtertjie. Ek funksioneer meestal op koffie, al is dit koue koffie. Want tussen ‘n besige dogtertjie, werk en produkte maak staan my beker iewers en word koud! Dis altyd vir my die kleiner dinge wat die meeste saak maak. Ek leef vir oomblikke saam my man en dogtertjie en ek sal familie tyd vir niks in die wêreld verruil nie. Opregtheid en eerlikheid is vir my iets besonders belangrik, ek wil ‘n voorbeeld stel vir ander en inspireer.
Ek maak foute, soms teveel, maar die groei wat ek hieruit leer is besonders. Ek sal altyd help waar ek kan, al leen ek net ‘n oor. Ek veg op knieë en hou altyd my oë op die horison. God se genade is elke dag meer as genoeg.
​
Ek is geseënd om in ‘n familie besigheid te kan werk, na ons dogtertjie te kan kyk en ‘n nuwe klein besigheid genaamd Home Crew saam my Mamma te kan groei, Elke produk by ons word individueel handgemaak met liefde. Ek streef daarna om elkeen wat ek ontmoet na ons Hemelse Vader te kan lei, ‘n inspirasie te wees en daagliks Sy lig uit te leef.
My naam is Leatitia Coetzee.
Ek is 38 jaar oud,en steeds op my reis na vergifnis,oorwinning en myself leerken.
Ek is 'n dogter,'n ousus,'n tannie en 'n kind van die Here. En 'n verpleegkunidige deur die dag,skrywer, boho-gees en boekwurm die res van die tyd.
My lewe is vol kleurvolle oomblike,oomblike wat jou asem wegvat,jou siel en hart aanraak en daardie oomblike wat jou lewe hand-om-keur verander,sonder dat jy enige iets kon doen om dit te verhoed.
So paar jaar terug het ek begin met my reis na self ontdekking,en sover het ek baie geleer oor myself,wie ek is of wil wees,nie wie almal wil he ek moet wees nie,ek het geleer om sterker en wyser te wees, meer dapper en deuglik in hoe ek mense benader en die lewe oor die algemeen.
Ek het gegaan van bang wees vir alles,gebuk gegaan deur die lewe na 'n vreeslose dogter van die Almagtige God. Alles in my lewe is uit Sy hande en 'n geskenk wat ek elke dag probeer benut en geniet.
Nie elke dag is maklik nie,en is steeds 'n enorme leer proses vir my. Maar soos 'n kind,het ek my gesin en my Pa wat my elke dag opnuut optêl en afstof en sê ;"Gryp die dag my lief,wees uniek jouself,en bly vashou aan my beloftes en liefde. Jy is myne,nou en vir altyd. Ek het jou onvoorwaardelik en opreg lief."
En met daardie wete, gaan ek elke dag in met nuwe hoop, 'n vars uitkyk, 'n nuwe huppel in my stap en probeer ek deur my woorde ander help wat dalk deur iets soortgelyk gaan.
En in my werk as verpleegster kry ek oomblike in my lewe waar ek wonderwerke sien sowel as die eina in die lewe,en ek kan deel vorm van iemand se begin en einde. En ek kan seker maak dat my tyd saam met hulle ondoubaar,liefdevol,verstaanbaar en kosbaar is.
So ek is en sal altyd 'n tolbos-boskind-boho-gypsy,Kind van God bly met my eienaardige maniere en uitkyk op die lewe,maar ten minste leer ek daagliks oor wat maak saak,wie maak saak en wie is net in my lewe vir 'n seisoen.
Ek lewe my tyd uit hier op aarde,in vol kleur en geur,met God wat my leer en lei, saam met die ongelooflike oomblike wat aan my gegun word en die kosbare mense wat deel word van my foto albums en herhinnering in my lewe.
En ek kan nie wag om alles met elke mooiste vrou te kan deel nie.